Hoe Sosiale Media jou reg op privaatheid beperk

11 April 2016 541

“My besigheidsvennoot het my Facebook-wagwoord sonder my medewete in die hande gekry. Ek is ongelukkig oor hoe die besigheid bestuur word en het op Facebook met kliënte gesels oor die moontlikheid om ‘n ander besigheid te begin. Ek het nooit vir hom die wagwoord gegee nie en het dié dinge op Facebook in privaatheid gesê. Sekerlik kan hy nie hierdie inligting gebruik nie?”

‘n Mens se reg tot privaatheid is een van ons belangrikste menseregte en word beskerm deur ons Grondwet. Maar ons reg tot privaatheid is nie onbeperk nie en kan ingeperk word waar dit regverdig én regverdigbaar binne ‘n oop en demokratiese samelewing is. Om sulke beperkinge te illustreer, kan ‘n mens kennis neem van ‘n onlangse hofsaak waar inligting wat op sosiale media geplaas of gedeel is, as bewyse teen ‘n persoon gebruik is.  

In Harvey v Niland, was Niland, ‘n professionele jagter van beroep, ‘n lid van Huntershill Safaris BK saam met Harvey. Harvey het uitgevind dat Niland kliënte van Huntershill uitgelok het met die doel om ‘n besigheid in direkte kompetisie met Huntershill te begin, in stryd met ‘n handelsbeperking wat ‘n fidusiêre plig aan Huntershill vereis. Harvey het Niland’s se Facebook-wagwoord bekom en so toegang tot sy rekening gekry waar hy afgekom het op verskeie gesprekke met Huntershill-kliënte, waarin hy hulle inlig oor sy skuif en vra of hulle by sy nuwe besigheid wil aansluit. Dié kommunikasie is as bewyse voorgehou, en nieteenstaande Niland se besware daarteen, hoofsaaklik gebaseer op die skending van sy reg op privaatheid en die feit dat die inligting teenstrydig met die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies (“die Wet”) bekom is, het die Hof die bewyse, in alle opsigte onwettig verkry, toegelaat om teen Niland gebruik te word. 

Die Hof se redenasie was gebaseer op die beginsel dat die kommunikasie, hoewel onwettig deur Harvey verkry, en ten spyte dat sodanige optrede selfs ‘n kriminele oortreding sou kon beteken, relevant tot die besigheid was én ook die basis vorm van Harvey se saak deurdat dit bewys het dat Niland teenstrydig opgetree het met die fidusiêre pligte wat hy as ‘n lid van Huntershill gehad het en dus die beperking van Niland se reg op privaatheid regverdig het, veral omdat daardie bewyse ook verkry kon word deur ‘n wettige proses wat Harvey kon volg. Die Hof het dus sy diskresie uitgeoefen om die Facebook-kommunikasie as bewyse toe te laat. 

Belangrik is dat die Hof nie die onwettige verkryging van die bewyse verskoon het nie, maar bevind het dat ten spyte van die onwettige manier waarop dit verkry is dit steeds in die verrigtinge gebruik kon word. In die algemeen, wanneer dit kom by die verkrying of onderskepping van data, moet daarop gelet word dat Artikel 86 van die Wet lui dat ‘n persoon wat sonder toestemming of magtiging toegang tot enige data verkry of dit onderskep, skuldig mag wees aan ‘n kriminele oortreding en strafbaar is met ‘n boete of tronkstraf vir ‘n tydperk van nie meer as 12 maande nie. Die Wet is egter stil oor of sodanige data wat onderskep word as bewys gebruik kan word in kriminele of siviele verrigtinge. Dienooreenkomstig sal die gebruik van sulke onwettig verkrygde bewyse afhang van die omstandighede van elke saak, met die Hof wat moet besluit of die bewys toelaatbaar sal wees of nie.  

Wat bostaande besluit duidelik wys is dat ‘n mens versigtig binne die sosiale media-terrein moet wees en nie aanneem jou aksies sal privaat wees, of dat dit nie teen jou gebruik kan word nie. Ons Grondwethof het by geleentheid gesê dat privaatheid, nes ander regte, nie onbeperk is nie. Soos ‘n persoon in gemeenskaplike verbintenisse en aktiwiteite soos besigheid en sosiale media inbeweeg, krimp die omvang van jou persoonlike ruimte. Waar ‘n mens dus die sosiale media-domein betree, kan jy nie dieselfde vlak van privaatheid en vertroulikheid verwag as wanneer jy byvoorbeeld inligting met iemand deur middel van ‘n persoonlike gesprek uitruil nie. So trap versigitg en neem as ‘n reël aan dat alles wat jy op sosiale media sê moontlik openbaar gemaak kan word en teen jou gebruik kan word.

Share: