Regulering van sosiale media misbruik in die werkplek

08 March 2017 335

“Ek raak toenemend bekommerd, nie net oor die tyd wat my werknemers op sosiale media spandeer nie, maar ook oor die risiko's wat dit vir my besigheid inhou as werknemers hulself nie behoorlik handhaaf terwyl hulle aanlyn is nie. Hoe kan ek as 'n werkgewer ‘n balans tref tussen sosiale media gebruik deur my werknemers en die beskerming van my sakebelange?”

Jou kommer is nie ongegrond nie aangesien sosiale media ge(mis)bruik 'n negatiewe impak op werknemers se produktiwiteit kan hê en onvanpaste sosiale media gedrag deur werknemers risiko's vir 'n werkgewer se besigheid kan inhou.

Die gebruik van internet deur die werkgewer se infrastruktuur kan deur die werkgewer gereguleer word. Dit sal 'n toestemmingsklousule in die dienskontrak van die werknemer of 'n werkgewersbeleid rondom internet gebruik vereis wat uiteensit wat, wanneer en deur wie die internet gebruik mag word. Verder kan die werkgewer ook internetgebruik monitor om oortredings van die beleid te identifiseer. Wanneer dit kom by die monitering van internetgebruik, is dit belangrik dat sodanige monitering geskied binne die voorskrifte van die reg en nie 'n skending van die werknemer se privaatheid daarstel nie. Die monitering moet ook geskied met 'n spesifieke doel voor oë, naamlik om onaanvaarbare gebruik van die internet te identifiseer.

Maar, ongeag monitering binne die werksplek, kan werknemers steeds toegang verkry tot die internet by hul huis of deur hul eie mobiele toestelle en sodoende 'n risiko vir die werkgewer inhou, hetsy deur sorgelose sosiale media gedrag of selfs deur die opdoen van aanspreeklikheid vir teistering of lasterlike optrede deur 'n werknemer op sosiale media.

Vir die werkgewer om homself te beskerm teen sulke gedrag moet die werkgewer oorweeg om ‘n sosiale media beleid te implementeer wat bepaal of en wanneer werknemers sosiale media tydens werksure mag gebruik, wat hulle mag en nie mag doen op sosiale media en wat duidelik uiteensit wat die gevolge sal wees van 'n oortreding van die beleid deur werknemers.

Deur duidelike regulering nie net van internet gebruik nie maar ook van sosiale media gedrag, kan 'n werkgewer sy risiko's aansienlik beperk en homself beskerm teen onaanvaarbare sosiale media gedrag deur sy werknemers.

Sodanige beleid moet egter duidelik omskryf word en verstaanbaar wees vir werknemers. Dit is dus raadsaam om die hulp van 'n spesialis in te win om jou beleid deeglik te help formuleer.

Share: