Is jou maatskappy nog "lewendig"? Die gevolge van versuim om jou jaarlikse opgawes in te dien

30 September 2013 1897

Pam is die enigste lid van 'n beslote korporasie (PK Beleggings BK). Drie jaar gelede het Pam besluit om eiendom te koop as 'n belegging. Ten einde die eiendom te beskerm teen krediteure en die huurinkomste te isoleer, besluit Pam om die eiendom in die naam van PK Beleggings BK te koop. Pam het heelwat geld belê in die instandhouding van die eiendom en het onlangs 'n baie aanloklike aanbod ontvang vir die verkoop van die eiendom wat sy, as enigste lid van PK Beleggings BK, besluit het om te aanvaar. Ongelukkig, voor oordrag van die huis kan plaasvind, lig die koper se prokureur Pam in dat PK Beleggings BK gederegistreer is en dat die oordrag van die eiendom gevolglik nie kan plaasvind nie. Pam, onbewus van die deregistrasie, is geskok en onseker oor wat sy te doen staan om die situasie reg te stel.

Die vereiste

Alle maatskappye en beslote korporasies is verplig om hul jaarlikse opgawes by die kantoor van die Maatskappye en Intellektuele Eiendoms Kommissie ("CIPC") in te dien binne 30 dae vanaf die herdenkingsdatum van sy inlywing. Versuim om dit te doen, kan daartoe lei dat die CIPC aanvaar dat die maatskappy en / of beslote korporasie nie meer sake doen nie of nie meer van voorneme is om sake te doen in die nabye toekoms nie.

'n Maatskappy of beslote korporasie kan in die volgende omstandighede verwys word vir deregistrasie:

  • By wyse van `n vrywillige aansoek deur die maatskappy of beslote korporasie self.
  • Indien die CIPC glo dat die maatskappy of beslote korporasie onaktief was vir sewe jaar of meer.
  • Indien die jaarlikse opgawes uitstaande is vir meer as twee agtereenvolgende jare.

Nie-nakoming van die vereiste vir indiening van jaarlikse opgawes kan lei tot die deregistrasie van 'n regsentiteit sonder toestemming van die lede of direkteure van so 'n entiteit. Pam, was onbewus van die vereiste vir die indiening van jaarlikse opgawes aan die CIPC en het versuim om dit te doen vir die afgelope drie jaar, wat vervolgens lei tot die deregistrasie van PK Beleggings BK.

Die effek van deregistrasie van 'n maatskappy of beslote korporasie

Die deregistrasie van 'n regsentiteit kan ernstige en verreikende gevolge inhou. Die effek van deregistrasie van 'n maatskappy is dat sy voortbestaan as regspersoon ophou en bring 'n einde aan sy bestaan as maatskappy. So 'n maatskappy het geen regskapasiteit om te handel nie met die gevolg dat enige ooreenkomste gesluit met of deur so 'n gederegistreerde entiteit nadelig beïnvloed mag word.

Die Wet bepaal verder dat "die verwydering van 'n maatskappy se naam van die maatskappye register nie die aanspreeklikheid ontneem van enige voormalige direkteur of aandeelhouer van die maatskappy of enige ander persoon ten opsigte van enige handeling of versuim wat plaasgevind het voordat die maatskappy van die register verwyder is nie. Enige aanspreeklikheid duur voort en kan afgedwing word asof die maatskappy nie van die register verwyder is nie."

Miskien die mees nadelige gevolge van 'n maatskappy of beslote korporasie wat gederegistreer is as gevolg van nie-nakoming van jaarlikse opgawes, is die feit dat al sy bates (insluitende vaste bates soos huise of geboue) in die staat vestig as bona vacantia (dit wil sê as goedere wat onopgeëis en / of sonder 'n oënskynlike eienaar is).

Gelukkig maak die Wet voorsiening vir “enige belanghebbende persoon” om aansoek te doen op die voorgeskrewe wyse en vorm by die CIPC om die registrasie van die maatskappy of beslote korporasie te herstel. Sodanige herstel kan die maatskappy of beslote korporasie laat herleef sodat al sy regte en verpligtinge afdwingbaar is soos voor die deregistrasie.

Aangesien sodanige herstel 'n lang en tydrowende proses kan wees, is dit raadsaam dat hulp verkry word van 'n prokureur, veral as vaste eiendom soos 'n huis betrokke is.

Wat duidelik wys uit die bogenoemde is die noodsaaklikheid om die status van jou maatskappy of beslote korporasie met CIPC te verifieer, sowel as dié van enige entiteit waarmee jy van plan is om 'n ooreenkoms te sluit voor die aangaan van sodanige ooreenkoms. Dieselfde beginsel is ook van toepassing met betrekking tot litigasie aangeleenthede, hetsy by die verdediging of uitreiking van `n dagvaarding, aangesien enige optrede deur of teen 'n gederegistreerde maatskappy of beslote korporasie nie geldig sal wees nie.

Howe het al selfs bestraffende kostebevele toegestaan teen regspraktisyns wat verkwistende aansoeke namens deregistreerde entiteite bring. Daar is dus 'n verpligting op regspraktisyns om die status van 'n entiteit te bevestig voor die instel van regstappe namens so 'n entiteit.

Die deregistrasie van 'n maatskappy of beslote korporasie kan nadelige regsgevolge hê soos Pam tot haar spyt uitgevind het. Dit kan ook baie duur word om reg te stel, maar as die proses doeltreffend en korrek hanteer word met die nodige regsadvies, kan baie van die moontlike risiko's tot 'n minimum beperk word.

Tags: Corporate
Share: